Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 06 NOVEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat dit aangekondig moet word dat die sleutel van John Mackay, ZS6YD, op Vrydag 12 Augustus 2011 in die ouderdom van 78 jaar stil geraak het.

Ons betuig ons innige meegevoel met John se familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

INTEGNET ONTLOK ’n LEWENDIGE BESPREKING AANGAANDE ’n MOONTLIKE GEVORDERDE LISENSIE

LOGBOEK VAN DIE WÊRELD ONDERVIND VERTRAGINGS

GROOT SONVLEK VEROORSAAK SONFAKKELS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

INTEGNET ONTLOK ’n LEWENDIGE BESPREKING AANGAANDE ’n MOONTLIKE GEVORDERDE LISENSIE

Die debat wat verlede Sondagaand tydens die integnet plaasgevind het, was lewendig en leersaam. Die bespreking was deel van die SARL se proses om van sy lede insette te kry aangaande die idee self, wat so ’n lisensie behoort te behels en wat die kwalifiseringsproses vir die verkryging van so ’n lisensie moet behels, sou dit in die toekoms ingestel word.

Die hoofvraag was: “wat sou die doel van so ’n lisensie wees?” Verskeie idees was geopper, wat miskien die beste deur Peter Hers, ZS6PHD, opgesom is. Hy het voorgestel dat die hoofdoelwit van so ’n lisensie kan wees “om ’n klimaat van lering en ontwikkeling onder die radioamateurs in Suid-Afrika te ontwikkel”. Die opname van die bespreking sal ontleed word en ’n opsomming daarvan sal binne die volgende aantal weke vir verdere kommentaar gepubliseer word.

Die moontlikheid van hoër krag was deur verskeie deelnemers opgehaal. Terwyl die begrip van ’n gevorderde lisensie nie om hoër krag gaan nie, word die moontlikheid van so ’n toelating nie uitgesluit nie.

U insette en voorstelle word ingewag. Stuur dit per e-pos aan artoday@sarl.org.za.

LOGBOEK VAN DIE WÊRELD ONDERVIND VERTRAGINGS

Weens ’n groot aantal radioamateurs wat hulle logstate na die Logboek van die Wêreld (LoTW) na verlede naweek se wêreldwye ESB-kompetisie oplaai, ondervind die ARRL se aanlyn-kontroleringsproses vertragings. Volgens die ARRL se IT-bestuurder, Michael Kane, K1MK, is daar ’n vertraging van ongeveer 60 uur vir die meer as 10 000 logstate in die wagtou om geprosesseer te word. “Logs word geprosesseer in die volgorde waarin hulle ontvang word”, het hy verduidelik. Verder het hy gesê: “Indien jou logstaat na LoTW opgelaai is, is staan dit op die oomblik in die tou vir prosessering, Dit het nie in die stelsel verlore geraak nie. Deur ’n logstaat meer as een keer op te laai, veroorsaak dit net verdere vertragings met die prosessering van jou eie, sowel as andere, se logstate.

GROOT SONVLEK VEROORSAAK SONFAKKELS

Spaceweather.com het Donderdag gerapporteer dat ’n groot sonvlek verskyn het en dat ionosferiese versteurings verwag kan word. NOAA-voorspellers het gister die kanse vir X-klas fakkels tot 20% opgegradeer. Die bron van die fakkels sal AR1339 wees, een van die grootste sonvlekke in baie jare. Die aktiewe gebied het twee dae gelede tot in die son se oostelike been geroteer en draai nou na die aarde toe.

Die sonvlek het ’n X-fakkel teen ongeveer 20:27 UTC op 3 November losgelaat. Die fakkel het golwe van ionisasie in die boonste atmosfeer van die aarde tot gevolg gehad wat die normale voortplanting van radiogolwe oor Europa en die Amerikas verander het. In Ierland is die fakkel se uitwerking tot na sononder waargeneem.

’n Plasmawolk het teen 1 000 km per sekonde van die terrein van die ontploffing af weggeskiet. Dit is egter nie op die aarde gerig nie, maar dit trek in die rigting van Merkurius en Venus. Vir opdaterings gaan na www.spaceweather.com.

OPROEP OM VERHANDELINGS

Hierdie is die eerste oproep om verhandelings vir aanbieding by die SARL se Radiotegtnologiesimposiums wat gedurende 2012 in Kaapstad, Port Elizabeth, Durban en Johannesburg staan gehou te word. Verhandelings moet gaan oor ’n tegniese of bedryfsaspek en van belang vir amateurradio wees.

Stuur ’n opsomming van ’n voorgestelde verhandeling aan artoday@sarl.org.za. Onderwerpe van belang kan wees DX-werking en kompetisies, antennaontwerp en –konstruksie en programmatuurtoepassings in amateurradio, om net ’n paar te noem.

KOMPETISIENUUS

UITSLAE VAN DIE SARL-QRP-KOMPETISIE VAN 22 OKTOBER 2011

Die kompetisiekomitee het 13 logstate ontvang. Uit die state blyk dit dat daar 63 stasies op die lug was. Van hulle het 19 stasies van ESB en GG gebruik gemaak. Daar was selfs 2 stasies wat kruismodus gebruik het wat heel waarskynlik die eerste keer is dat dit gebeur het.

Die uitslae is as volg:

1ste ZS6RJ - Roger 880 punte
2de ZS6XT - Pieter 648 punte
3de ZS3R - Christo 560 punte
4de ZS2J - Derek 552 punte
5de ZS6ARQ - Romeo 450 punte

Die volledige uitslae na 4 bene van die kompetisie is:
1ste ZS6A – Pierre 2 682 punte
2de ZS6XT – Pieter 2 132 punte
3de ZS2J - Derek 1 577 punte
4de ZS6WR – Wes Rand ARK 1 386 punte

Die volledige uitslae is op die SARL-forum geplaas en sal ook in HF Happenings gepubliseer word.

Baie dankie aan al die deelnemers, maar, stuur gerus volgende keer almal julle logstate in en baie geluk aan die wenners.

KLUBNUUS

NAGTELIKE NETTE OP 144 MHz

BHF-amateurs in Port Elizabeth het weer met nagtelike nette op 144 MHz begin ten einde meer BHF-aktiwiteit in die land aan te moedig en ook om beginners lus te maak vir BHF-werking in die simplexmodus. Die nette vind in twee sessies plaas. Die eerste net is net vir FM-werking spesiaal vir diegene wat net oor FM-toerusting beskik. Met FM kan onder goeie toestande tot 400 km bereik word. Die tweede sessie is bedoel vir langafstandtoetse met gebruik van ESB, maar GG kan ook probeer word. Amateurs sal die meeste aande bedrywig wees, veral wanneer toestande gunstig is. Let asb. daarop dat polarisasie horisontaal moet wees. Tropovoortplanting bied die beste resultate in die 144 MHz-band, veral gedurende die nag gedurende die warmer maande.

Die volledige rooster is as volg:
19:00-19:30 SAT op 144,400 MHz FM gerig Wes na die Mosselbaaigebied,
19:30-20:00 SAT op 144,400 MHz FM gerig noordoos na die Oos-Londongebied.
20:00 SAT, die frekwensie verander na 144,200 MHz en die modus na HSB en die antennas word Noordwaarts gerig om kontakte met stasies in en om Bloemfontein, Durban en verder te bewerkstellig.

BHF en hoër frekwensies is eksperimenteel en is die uitdagende kant van die amateurradiodiens, die toekomstige spektrumgedeelte vir alle radiokommunikasie.

AWA OPE DAG

Die Suid-Afrikaanse Antieke Radiovereniging of The South African Antique Wireless Association, afgekort AWA, hou ’n ope dag en sy AJV in die Transvaal Aviation Centre by die Randse Lughawe op Saterdag 12 November beginnende om 10:00 die oggend.

Alle lede en belangstellendes word uitgenooi om by hulle aan te sluit vir ’n dag vol pret met radiouitstallings, ’n snuffelmark, ’n restaurant en kontantkroeg.

Kontak vir Andy, ZS6ADY, vir verdere inligting of roeteaanwysings met ’n oproep na 082 448 4368 of e-pos aan andyzs6ady@vodamail.co.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die grootste sonvlek die afgelope paar jaar tans na die aarde gerig is. Twee of drie van sy donker kerns is groter as die aarde! Die kanse vir sonfakkels is natuurlik baie goed met so 'n reusagtige sonvlek.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 108, 'n nuwe hoogtepunt vir hierdie siklus.

20 m tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie TEP-openinge van tyd-tot-tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

12 November – AWA ope dag by die Randse lughawe, beginnende om 10:00.
13 November - Pears HF-kompetisie 12:00 tot 16:00 UTC.
19/20 November - SARL-velddagkompetisie.
27 November - GG-been van 80 m klubkompetisie.
27 November - Digitale kompetisie.
30 November - Laaste dag vir insending van logstate vir PEARS HF DX-ekspedisie.
31 Januarie 2012 - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie 2012 - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003